1. Werk
Gebed
Here, ek bid dat U die werk van my hande sal seën. Gee dat sy arbeid nie net guns, sukses en voorspoed sal bring nie, maar ook groot vervulling. As die werk wat ek doen nie in ooreenstemming is met dít wat U volmaakte wil vir my lewe is nie, openbaar dit aan my. Wys my wat ek moet verander en lei my op die regte pad. Gee my krag, geloof en ‘n toekomsvisie sodat ek bo enige geneigdheid tot luiheid kan uitstyg. Gee dat ek nooit weens vrees, selfsug of ‘n begeerte om verantwoordelikheid te vermy van werk sal vlug nie. Help my aan die ander kant om te sien dat ek my nie hoef dood te werk om die mens se goedkeuring te kry, of om te gryp na meer as wat U vir my gee nie. Gee my die vermoë om my sukses te geniet sonder om na meer te streef. Help my om uit te blink, maar bevry my van die druk om dit te doen.
Ek bid dat U Heer van my werk sal wees, en dat ek U in elke aspek van my werk sal plaas. Gee my genoeg vertroue in die gawes wat U my gegee het om my in staat te stel om goeie werk te soek, te vind en te doen. Open deure van geleenthede vir my wat geen mens kan toemaak nie. Ontwikkel my vaardighede sodat dit elke jaar steeds in waarde sal toeneem. Wys my hoe ek aangemoedig kan word.
Ek bid dat my werk gevestig, veilig, suksesvol, bevredigend en finansieël lonend sal wees. Gee dat ek ‘nie in toewyding [sal] verslap nie, altyd geesdriftig [sal bly], die Here [sal dien]’ (Romeine 12:11). Laat my wees soos ‘n boom wat by waterstrome geplant is, wat op die regte tyd vrugte dra. Gee dat ek nooit onder druk sal ingee nie, maar sterker sal word en voorspoedig sal wees in alles wat ek aanpak (Psalms 1:3).